Ons Skoolreëls - gedragskode vir Ouers

Trainer

GRONDWET: Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet no. 108 van 1996

  1. INLEIDING:

Laerskool Kameelfontein se gedragskode is gerig uitsluitlik op die skepping van ‘n harmonieuse en gedissiplineerde skoolomgewing, waarin die leerder deur middel van die opvoeder en ouers, sy volle potensiaal kan bereik.  Verder skep dit ‘n maatstaf waardeur die gedrag van leerders, ouers, opvoeders en bestuur gemeet kan word.

 

  1. DOEL VAN DIE BELEID:

Die daarstel van ʼn stel skriftelike reëls en beginsels oor dissipline, griewe en gedrag in die algemeen. Dit het betrekking op die natuurlike ouer van die leerder en/of die voog van die leerder en/of iemand wat ‘n wettige aanspraak het op die sorg en beheer van die leerder. Om die ouers te laat besef dat onderlinge samewerking tussen ons en die ander persone wat by die opvoeding en onderwys van ons leerders betrokke is, alleenlik suksesvol kan wees as alle partye ooreenkom in die nastrewing van waardes en beginsels. Terwyl ouers daarvan bewus is dat hulle oor sekere regte beskik in terme van die Grondwet, erken hulle ook dat ander mense soortgelyke regte het en respekteer hulle hierdie regte.

 

  1. WETSVEREISTES VAN DIE BELEID:

WET: Die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet no. 84 van 1996).

 

  1. IMPLEMENTERING VAN DIE BELEID:

ELKE OUER VAN LAERSKOOL KAMEELFONTEIN VERBIND HULLE TOT:

  • Die opvoeding van leerders tot verantwoordelike en selfstandige besluitnemers.
  • Die kweek van ‘n pligsbesef by leerders.
  • Die handhawing van dissipline by leerders.
  • Die hantering van die opvoeders en bestuur met die nodige respek.
  • Die aanvaarding van die skoolreëls en -beleide en die bevordering daarvan by die leerders.
  • Respek vir die skoolomgewing en die skoolfasiliteite.
  • Die erkenning van die multi-kulturaliteit en andersheid van mede-ouers en dat hulle so sal optree dat hulle nie die menswaardigheid van ander ouers sal aantas nie.
  • Die respektering vir nie-onderwyspersoneel en besoekers. Die bydraes tot die gladde verloop van die skoolorganisasie deur administratiewe personeel en terreinwerkers word hoog aangeslaan, daarom sal ouers ook hierdie personeel met agting hanteer.

 

  1. REGTE VAN OUERS:
  • Om op die beheerliggaam te dien indien demokraties verkies.
  • Om te verwag dat die standaard van onderwys korrek en in lyn is met die beginsels soos vervat in die skolewet.
  • Om gereeld op hoogte gehou te word ten opsigte van die vordering van sy/haar kind by die skoolaktiwiteite of selfs gedragsafwykende gedrag indien dit openbaar word.
  • Om enige probleem met of die onderwyser of die skoolhoof te bespreek, maar op so ‘n manier dat die integriteit van geen persoon afgekraak word nie en sy/haar regte nie aangetas word nie.
  • Om deel te neem in die besluitnemingprosesse en funksies soos van tyd tot tyd deur die skool verlang.

 

  1. VERANTWOORDELIKHEDE VAN OUERS
  • Om aan hulle kind/ers ‘n veilige en geborge opvoeding te gee waarmee die leerder/s se volle potensiaal ontwikkel kan word.
  • Om toe te sien dat hulle kind/ers elke dag skool bywoon en indien hulle afwesig is, dit onder die aandag van die skool te bring. Indien ‘n leerder vroeg die skool moet verlaat, self die nodige reëlings tref en die leerder persoonlik by die kantoor kom afhaal.
  • Om aan te meld by die kantoor indien dit nodig is om op die skoolterrein te wees tydens skoolure. Geen ouer mag onaangemeld tydens skoolure op die skoolterrein rondbeweeg nie.
  • Om toe te sien dat gereelde akademiese rapporte van die vordering van die leerder ontvang word en dit ook met die onderwyser en leerder te bespreek.
  • Om toe te sien dat die leerder gesond en skoon is en dat hy/sy geïmmuniseer is soos vereis deur die Gesondheidsdepartement.
  • Om toe te sien dat die leerder/ers die nodige toerusting het om hulle klaswerk en tuiswerk te doen.
  • Om enige verandering in die leerder se omstandighede onder die aandag van die skool te bring.
  • Om die skool te voorsien van die nodige telefoonnommers, adresse en geboortesertifikate.
  • Om gereeld die leerder se skoolgeld te betaal of reëlings met die Finansiële komitee te tref.
  • Om ‘n positiewe verhouding te kweek tussen die leerder, die onderwyser en die skool deur aktief betrokke te raak by die aktiwiteite van die skool.
  • Enige skade aan die gebou, en ander toerusting deur leerder, sal deur die ouer vervang of herstel word.
  • In enige wederregtelike optrede sal die bestaande landswet geld.
  • Geen ouer mag ‘n ander leerder op die skoolterrein dissiplineer, vermaan of dreig nie.
  • Die gebruik van drank tydens geleenthede waar leerders betrokke is, is streng verbode. (Die uitsondering is: Wanneer ‘n sosiale geleentheid aangebied word en ‘n spesifieke terrein vir hierdie doel ter syde gestel word).
  • Om te verseker dat hulle kinders altyd die korrekte skooldrag sal aan hê.

 

  1. OPTREDE TEEN OUERS/AFRIGTERS/BEAMPTES WAT DIE GEDRAGSKODE OORTREE:
  • Enige persoon wat die gedragskode oortree, op welke wyse ookal, moet so gou doenlik by die Hoof/Beheerliggaam aangemeld word vir verdere ondersoek . Ouers moet nie die reg in eie hande neem nie.

 

Optrede:

  • Informele gesprekvoering
  • Formele gesprekvoering
  • Waarskuwing – Skriftelik
  • In uiterste gevalle kan optrede na die diskresie van die Skoolbestuur/Beheerliggaam plaasvind.
  • Ons personeel by Laerskool Kameelfontein streef na hartlike samewerking met die ouer van elke leerder onder ons sorg. Ons sal alles moontlik doen om die ouerlike gesag te handhaaf, die leerders se vertroue te bevorder en om die ouers voldoende op hoogte te hou van hulle leerder se vordering.

 

  1. BETROKKENHEID BY BUITEMUURSE AKTIWITEITE EN SPORTBYEENKOMSTE
  • Die deelname van leerders aan enige buitemuurse aktiwiteit is ‘n voortsetting van die opvoedingsproses. Daarom is die optrede van ouers langs die veld/baan van uiterse belang; om nie aanstoot te gee nie.
  • Ouers onderneem dus om hulself te weerhou van opmerkings teenoor die skeidsregters en ander toeskouers tydens sportbyeenkomste en hulle ook te weerhou van geweldadige, onwelvoeglike en lasterlike taal en gedrag. (Sien volledige sportbeleid.)

 

  1. BESOEKE AAN DIE SKOOL OM OPVOEDERS TE SPREEK:

Skakel vooraf om ‘n afspraak te reël. Ouers moet te alle tye by die kantoor aanmeld.  Geen ouer mag direk na ‘n onderwyser se klas gaan nie.  Indien die skoolhoof teenwoordig moet wees, moet ‘n afspraak by die skool kantoor gemaak word.