Vanuit verskeie punte is hy reeds sigbaar. Soos ‘n baken staan hy daar – Kameelkop! Stadig en rustig troon hy uit bo die deinende bulte voor hom en die ondersteunende bulte agter hom. Aan die voet van Kameelkop, lê ‘n aantal verspreide geboutjies opgerig asof behoefte en geld ‘n slag bymekaar gekom het. Armoedig was dit met tye. Luuks was dit nooit van tevore, maar ryk aan liefde en gemeenskap was dit nog altyd.
Een ding is egter seker: Vir baie was die versameling geboutjies, die eerste skool vir 110 jaar, ‘n hawe en meermale ‘n uitkoms vir kind en ouer. ‘n Plek waar karakter gevorm en ontplooi word – die plekkie amptelik vandag bekend as Laerskool Kameelfontein. ‘n Plek wat gegroei het en deur die mense wat aan hom bou die toets van tyd geslaag het.
Laerskool Kameelfontein is meer as 110 jaar gelede opgerig as ‘n skool vir die kinders van boere wat in die area gewoon het en wat daagliks te perd of per ossewa moes reis om die skool te bereik. Die skool het ook ‘n koshuis gehad vir diegene wat te ver moes reis. Met ‘n skamele 11 leerders het die akademiese verrigtinge begin. So het die area, rondom die skool as baken oor die jare uitgebrei. Onder dieselfde skaduwee van die groot, groen bome waaronder ossewaens gestaan het, perde gewei het en kinders rekspring gespeel het, baljaar die Kammies nogsteeds vandag. Die reën sypel nogsteeds tussen dieselfde skrefies van die bakstene, wat al 110 jaar gekerf word, deur.
Baie bespiegel oor die herkoms van die naam;
P.J. Nienaber se Suid-Afrikaanse Pleknaamwoordeboek (bl. 61) vermeld:
“Kameelfontein, Kameelpan, Kameeldrift, het betrekking op Kameelperd en bewys die teenwoordigheid van dié diere op die plekke”. Baie mense in die gemeenskap verklaar vandag dat dit die bekende “Kameelkop” is wat aansporing tot die titel gegee het.
Om Laerskool Kameelfontein te vestig as ‘n skool met ‘n Christelike etos waar kwaliteit onderrig in ‘n unieke leeromgewing aan alle leerders verskaf word, sodat hulle volle potensiaal op beide akademiese en nie-akademiese gebied bereik word.
1- Ons wil ons visie bereik deur ouers en die gemeenskap te begeester om die skool op alle wyses te ondersteun in die strewe om die visie te verwerklik.
2- Om standaarde vir leerders op alle vlakke binne en buite die klaskamer dinamies te handhaaf.
3- Om uitnemende opvoeding deur middel van kwaliteit onderrig, voorligting en fasilitering deur gekwalifiseerde, entoesiastiese en verantwoordelike opvoeders te verskaf.
4- Om opvoeders aan te stel wat die bogenoemde eienskappe openbaar om sodoende aan ons visie gestalte te gee.
5- Om ons leerders te bemagtig om as ‘n geheelmens te ontwikkel om hul plek in die samelewing te vervul.
Ons KAMMIES word opgesom gekenmerk deur ‘n sterk waarde systeem wat insluit:
K- Kameraadskap
A- Ambisie
M- Mededeelsaamheid
M- Maniere
I- Integriteit
E- Intoesiasme
Vandag staan Laerskool Kameelfontein vir dieselfde Christelike waardes waarop ons skool gevestig is. Ons is trots op ons Afrikaanse kultuur en geskiedenis wat al jare lank deur ons gange eggo.
Met meer as 350 leerders en 45 personeel is Laerskool Kameelfontein sterker as ooit van tevore. Ons spog met meer as agt sportsoorte, insluitend atletiek, netbal, hokkie, rugby, krieket, swem, roei, trompoppies, ruitersport en skaak, asook vyf kultuur aktiwiteite, naamlik gedramatiseerde prosa en poësie, redenaars, koor, musiek en sang. Ons Kammies staan ook nie terug nie, maar eerder saam. Kammies wen gereeld distriks-, provisiale- en landswye kompetisies, byeenkomste en pryse.
Ons skool is ook ryk aan kultuur en lê klem om trots Suid Afrikaans te wees. Met unieke geleenthede om die gemeenskap bymekaar te bring, is Laerskool Kameelfontein al jare lank ‘n trekpleister vir sosiale samekomste.
© Copyrights 2025 Laerskool Kameelfontein